Lyfseer

[Back home]

Lyfseer

Ek ry vanmiddag huistoe, en die geel agtermiddag-depressie son maak lang skaduwees langs die pad. Alles is vaal en vol stof. My kar is vol stof, en dit herinner my aan my gees vandag.

My maag is seer van honger, en honger van kommer. En my gees is lyfseer en vodde gekneus vandag.

'n Ou maatjie het vandag 'n internet-klets met my begin. Die vriend het onlangs sy gesin net so verlaat vir 'n flerrie. Nou wil hy sommer so kontant inval en hoor hoe dit gaan. Sien, my pa het my destyds so weggesmyt, maar dis die eerste keer dat ek dit met iemand so naby en in my geslag ervaar. Ou wonde en nuwe gevoelens. Ek het maar net gese wat op my hart is rakende sy omstandighede, toe wip die vent hom. Miskien 'n teer plekkie aangeraak ? Ek skryf toe maar 'n e-pos om te probeer verduidelik, maar my maag is ongesteld vandat ek die stuur knoppie gedruk het.

Later vandag, oor 'n koppie middag koffie, verduidelik my mens-held (ja, ek het helde op 36) vir my presies hoe die wereld 3 miljard jaar out is en dat ek self na die stukke dolmiet langs John Vorster weg kan gaan kyk om dit te verifieer. Uitdagend gee hy my die kans om te se ek glo nie daaraan nie, dat God die aarde geskape het. Sien, alhoewel my mens-held 'n Java programmering god is, is hy 'n ateis. Ek het nie vandag die krag nie. Ek het heeldag ander mense se sagteware probleme gesit en oplos.

Maar nou is ek oppad huistoe. Heelword toe. Sien, Pappa sorg. Hy het vir my 'n vriend gegee wie se skaterlag en bondinge grapperny soos lawende salf vir my seer en bloukol gees is. n Vriend met wie ek alles kan deel, selfs vuilerige grappe. (My ma het altyd gese, as ek 'n vuil grap hoor moet ek dit eerste vir haar vertel, voor ek dit vir ander vertel. Ek het nie baie vuil grappe vertel nie.) 'n Vriend waaroor ek angstig raak as ek hom nie op die internet klets program sien nie. Een wat my help om myself te wees, wat saam met my ry op hierdie rit van selfontdekking.

Pappa sorg. Ek gaan na 'n mallemeule huis toe, waar ek met krete van "daddy !" by die agterdeur verwelkom word. Waar ek help kinderlyfies bad, in warm water uit 'n kraan. Waar ek groot-oog maak as aandete nie opgeeet word nie. Waar my oulike swaertjie sommer inval vir aandete as hy in die buurt is, en ons lank oor die bybel sit en gesels. Waar ons saam bid en in warm bedjies klim. En my stowwerige kar sal my more weer werk toe neem en terug bring.

En wat die hele tyd deur my kop suis, is die woorde van die Steeple Song soos gesing deur Don Francisco:

But, do you love your wife?
For her and for your children
Are you layin' down your life?
What about the others?
Are you livin' as a servant to
Your sisters and your brothers?
Do you make the poor man beg you for a bone?
Do the widow and the orphan cry alone?



© 2001-2021 ou-ryperd.net